Namibië

Namibië is een van daai lande wat geseën is deur die Gode, en op haar beurt seën sy die mense wat daar gaan toer. En ons het nie gegaan om net te toer nie, maar ook om musiek te speel en footage bymekaar te kry vir musiekvideo’s en plakkate. En dit het die toer meer as net ‘n toer gemaak, want die land is ‘n kunstenaars paradys. Die landskappe is dramaties en die kleure is buitengewoon, amper soos iets op ‘n ander planeet, soos Mars, of die Maan. En dit maak vir goeie foto’s en sielskos.

Op ander plekke het dit gevoel soos wat ek net kan dink Egipte moet voel, want daar is ‘n duin in Soussousvlei, net anderkant die Dooie Vallei- wat ‘n wit opening is, tussen die terracotta kleur sand met dooie bome wat nog staan- wat lyk soos ‘n piramiede. En mense met stapstokke en khaki uitrustings stroom in ‘n strook op na die punt van die duin soos mense op ‘n pelgrimstog.

Soussousvlei het my so gelukkig soos ‘n kind gehad en irritasies en onnodige gedagtes wat saam getoer het tot op daai punt, het onbelangrik geraak in die groot roesrooi sandpit. Die plek hou mens se aandag in die nou, jy voel of jy lewe, asof elke oomblik iets beteken. Dis net die natuur wat dit kan doen. Ek besef ook dat dit ‘n ander storie sou gewees het as ons nie kon terug keer na die skaduwee van die kar toe nie, want dis net duine en son, nie ‘n plek vir mense wat dit nie ken nie. En selfs die  klein diertjies van die duine, is spesifiek ontwerp vir die omgewing. Besies wat so lig is dat hulle beter kan beweeg as enige 4 x 4 oor en deur die dik sand, en hulle spoortjies maak die mooiste patroontjies. Lig geel woestyn geitjies wat hulle pootjies sinkroniseer deur een in die lig hou, om koel te bly, en wat pas mooier teen ‘n rooi duin as ‘n Gemsbok, en ons was gelukkig genoeg om dit te sien.

   

Ek het ‘n ding vir klippe en koppies, nog altyd, iets van dit herinner my aan my binneste, en stof, dit pas by my. En Namibië is dit, en ek het ‘n punt daarvan gemaak om soveel moontlik koppies te klim en klippe op te tel. En iets wat my gefassineer het was die klein hopies klippies wat ons orals langs die pad gesien het. Party mense sê dis bakens, maar dit het vir my soos iets meer spiritueel, kunstig en gekalkuleer gelyk. Klein kunswerkies van klippies en rotse wat opmekaar gepak is met moeite en plesier, en van die formasies het my mind geblow. Daar is plekke waar die kleiner klippies onder is en groteres bo, en dit bly staan, asof dit nie eintlik kan nie. En uiteindelik het ek deur die hordes en hordes van die formasies langs die pad die taal begin verstaan en my eie een gebou hoog in ‘n koppie een dag. En op ‘n ander dag daag ons op by ‘’Giant’s Playground’’ wat ‘n klomp rotse, van vreemde vorms is, wat bo op mekaar gepak is deur reuse, so gaan die legende, en toe verstaan ek nog meer wat die klein mensies met hulle klein formasies probeer doen. Ek sou ure wou spandeer op die speelgrond van die reuse, en ek kan gaan definitief terug soontoe.

Ons was vier op hierdie toer, ek en Belinda, my Singer/Songwriter vriendin van Bloemfontein, Ian my vriend van Pringle Baai en ‘n sandkleur Landie. Twintig dae in mekaar se geselskap, ‘n interessante kombinasie. En ons het ge-operate, tente en kamp op en af geslaan omtrent elke dag, gigs gesoek en gespeel, gestop en foto’s geneem, wasgoed met die hand gewas, onsself beskerm teen ongenooide gaste, stretchers uit gedra en onder die sterre geslaap, vuur gemaak, hout gesoek, kak gepraat, kitaar geoefen, en op die einde vinnig moes besluite maak toe ons in die middel van nêrens gaan staan het. Maar meeste van die tyd het ons gery, en gery en nogmaals gery. En dit was om krag weer terug te sit in my lewe. Om deur die venster van ‘n kar te sit en kyk na paaie wat verander van bruin na grys, na rooi en geel en soms silwer, is hipnotiserend, en ek is besig met ‘n musiekvideo om dit te bewys.

En saam met die ry, kom musiek, en dank klank vir Apple music. Blues en Folk en Metal, Progressive Metal. Maar die metal was vir my mooiste op die pad, die intrinsieke en dramatiese kitare het gepas by die buitengewone landskap en altyd by my state of mind. En stories, so unapologetically ernstig. Ek het dit maar meeste van die tyd dit deur my oorfone geluister. Soos ‘n tiener.

Die vreemde ding van Namibië is die feit dat dit so bekend en vreemd op dieselfde tyd is. Daar is so baie eg aan Suid Afrika, soos Afrikaans, en die bekende gesigte wat lyk soos mense van ons land, maar daar is goed so outlandish, soos die Duitse aspek. En ons het Duitse Suid Afrikaners, en ek ken Duisters van Duitsland, maar hierdie Afrikaanse/Duitse mense, voel nou weer heeltemal anders. En tog was daar’s ‘n vae herinnering van iets in die mense, mooi en trotse mense. Ons het ook Ovambus ontmoet, wat die grootste deel van die bevolking uitmaak, en hulle praat Afrikaans, maar ek herken nie die mense nie, pragtige sterk mense. En natuurlik die sagte San mense. En na ‘n lang dag op die pad stop ons op ‘n boer se plaas, wat met ‘n Japanese vrou getrou het en die Jafrikaanse kindertjies kom groet ons met hulle wippende poniesterte en wys ons kampplek vir ons aan.

En dis dieselfde met die landskap, mens herken dit, dis Afrikana, maar dis vreemd, die bosveld kleure hier het pienke en perse en kameelkleure wat net anders is as Suid Afrika. En mens kan dit letterlik van die grens af begin sien en voel. Asof die grense eerste gestel is en toe die lande.

Een laat middag, ry ons perongeluk verby ons kampplek en ons eindig op langs ‘n dam. Dit het gevoel of ons terug keer na die 80’s toe, nie oor mense of situasies nie, daar was skaars enige iemand in die kamp, maar oor die kleure en die gevoel wat die plek af gegee het, toe ek klein was, het ek laas so ‘n gevoel gehad. En weereens was die pienke en perse redelik prominent. ‘n Leë art-deco styl kampplek, met huisies en waskamers reg om ons. Ek gaan sit op die baie hoë wal van die dam en skryf oor persoonlike goed en doer onder op die dam sien ek ‘n pelikaan, wat ek eers gedink het is ‘n swaan, en net daar besluit ek dat ‘n pelikaan eintlik vir my mooier is as ‘n swaan. Ek dagdroom van die eiland in die middel van die dam, en soos wat die pelikane strepies op die water trek oppad eiland toe, wens ek dat ek my kanoe by my gehad het, die groot geel een wat in Pringle Baai vir my wag.

Die aand om die vuur, kom daar stories in ons los, en ek begin ‘n patroon agterkom, hoe ons elke aand om die vuur net ‘n bietjie meer gemakliker met mekaar raak, en ons meer begin luister na mekaar, en ons stories raak ryker. Ek voel ook hoe ek ‘n nuwe sterk deel van my persoonlikheid begin kultiveer, iets wat net kom met sekere interaksies, buite mens se comfort zone.

Die aand voor ons in die tent klim, roep ek vir Belinda om na my skaduwee teen die muur te kom kyk, die een wat my kopliggie maak, en so, word die 80’s scene afgerond, met die skaduwee van iets wat lyk of dit jou gaan vang.

Ek moet eerlik wees, ek het nie baie van Henties en Walvisbaai gehou nie, dit het my herinner aan iets wat ek eerder nie aan herinner wou word nie, maar Luderitz het my opgewonde gehad. Hierdie klein dorpie net anderkant die wilde perde, toring uit die woestyn uit met sy pikante Duitse geboutjies en grond paaie, so bietjie soos ‘n cowboy Disneyland van ‘n afstand. Ek het vir ure rond geloop en foto’s geneem.

 

En net buite Lüderitz staan ons vroeg die oggend voor die hek om by Kolmanskop in te gaan. ‘n Droom van ‘n plek, drie van my gunsteling goed op aarde, ‘n woestyn, ou huise en spoke. Die verlate dorpie is een van die groot toeriste aantreklikhede in Namibië, en die baie mense wat soontoe kom, na ‘n plek wat nie meer bestaan nie, is ironies. Die plek is gemaak van gees en skaduwee en lig. Die foto’s spreek meer as woorde in ‘n plek soos daai.

   

Om gigs in Namibië van Suid Afrika te probeer reël het was moeilik, maar ons het darem een baie goeie tip gekry, soos wat dit gaan as mens op die pad is en om vure saam mense sit, ontmoet ons vir Sanne. Sy het met magic hour aangery gekom, terwyl ons foto’s van mekaar en die Australiaanse Skaaphond geneem het, in haar kombi en vriendelik vir ons gewaai. En die aand langs die vuur vertel sy ons van mense en plekke en agv haar konneksies, kry ons nog ‘n paar gigs, en uit daai gigs nog ‘n ander, domino effek. En dit is presies wat ek geweet het gaan gebeur, as mens toer en mens is oop, vind jy waarvoor jy soek, dalk nie alles nie, maar genoeg.

Aan die Suid Afrikaanse kant speel ons o‘n paar interessante gigs in Lambertsbaai en Van Rhynsdorp. Die mense was gasvry, en ontmoet ’n jong seun wat ons vertel van die 400 liedjies op sy solo album. En die oggend 3 uur klop ‘n hooded figuur aan ons slaapkamer deur, hy het iemand gesoek wat ons nie geken het nie, en niemand het hom ook geken nie. Vreemd en fassinerend.

Maar terug by die gigs in Namibië. In Swakopmunt was die mense opgewonde dat daar musiek was, hulle het uitgekom en kom luister, baie van hulle, en ‘n gemengde groep, verskillende tipes, almal in een venue. Hulle het gedans en kom gesels met ons en na die tyd het ‘n Amerikaanse kulkunstenaar ons show af gerond met ‘n paar amateur toertjies, hy het breed vir ons geglimlag toe hy in sy taxi klim na die tyd. Daar was iets hartseer aan hom.

In Uis, naby Brandberg het ons voor buitelanders gespeel wat uit  ‘n unimorg uitgepop het en tente moes opslaan in koue wat my huis toe laat verlang het. Dit was so erg dat ‘n Spanjaard langs ons heel aand op gegooi het. Die paartjie was op hule eie, en ons het probeer help, maar ons het nie valoids gehad nie, en ek het eers die volgende oggend van die blikkie coke in die kar onthou. As my Ma daar was sou daar valoids gewees het, en immodiums. Daar is min dinge so sleg as om siek en bang te voel in ‘n vreemde land, maar ons het hulle darem bietjie veliger laat voel, en hulle het die volgende aand reg voor die stage gesit en cds gekoop na die tyd.

Deel van ons betaling was ‘n vlugtige vlug  in ‘n baie klien vliegtuigie saam met Bjorn van Denemarke. Ian en Belinda het gegaan, ek het agtergebly en die alleentyd bietjie gekoester. As mens saam ry, saam slaap, saam speel en eet dan raak mens iewers ‘n bietjie gatvol vir mekaar, en ek dink hulle was dalk bietjie meer gatvol vir my as ek vir hulle. Maar mens raak darem ook ‘n bietjie liewer vir mekaar.

Twee aande in ‘n ry het ons in die ‘’Switzerland’’ van Namibië gespeel. Dis hoe Basil, die eienaar van die Lodge na Uis verwys, maar toe ons in sy 19 toet Landcruiser op ‘n sundowner trip gaan, was die wit op die piekie, myn-as. Maar hierdie groot sagte reus van ‘n man het soveel trots vir sy plek, so, ons gee dit vir hom, Switzerland. En die aand speel ons en die local musikant Lorie, daag daar op met ‘n kitaar wat Mervin Davis spesiaal vir hom gemaak het, en hy speel  vir ons ‘’Road to Hell’ van Chris Rea, en Basil sing saam. Ek glimlag, ek is mal oor die liedjie, my Pa ook, onthou ek. Hierdie mans is die sout van die aarde.

Ons laaste gig is in Namibië se kunsdorpie, Omaruru. Hier kom ons aan in ‘n plekkie, na dae wat ons nie eers kon stort nie, en waar daar geen winkels, of lopende water was nie, en hier is ‘n mooi swart en wit Hotel, en ‘n kunsgalery met regte kuns en die beste kaaskoek wat ek nog ooit geëet het. In die middle van nêrens. En die mense van die Hotel, het in een dag, want dit is die waarskuwing wat ons vir hulle gegee het, vir ons ‘n sit down show in die Hotel se saal gereël, met mense wat gedress het en kaartjies gekoop het, en bo alles, gesit en luister het na ons stories en liedjies. Dit was spesiaal. En aande soos dit, maak my dankbaar en opgewonde oor die pad wat ek loop.

Om te toer, is om ‘n versekering te kry dat jy bietjie gaan verander en gaan groei. Dit sit dinge in perspektief en nie net tyd weg van jou alledaagse lewe nie, maar ook afstand laat mens sien wat belangrik is en wat mens eintlik net van kan laat gaan. En as mens vrae het, wat mens eintlik maar altyd het, is daar een plek om antwoorde te kry, en dit is in die natuur. En dit raak moeiliker om natuur in pure vorm te kry deesdae, maar as mens ‘n 4 x 4 het, gaan jy dit kry in Namibië. En dit bring my by die plek waar ek uiteindelik toe my antwoord gekry het. Spitzkoppe. Ian het gesê dis ‘n spesiale plek, en soos wat ons nader trek aan die koppies word ek meer lewendig.

Dis vreemde koppies, met gate en skeure en diertjies wat ek ken, maar ek het hulle nog nie in die habitat gesien nie. Soos klipspringers wat daai gladde ronde hoë heilings uitklim asof hulle op hoëhak skoentjies loop. My arme senuwees, ek sit en kyk en wag dat die bokkie gly en val, maar bokkie is beter as ‘n mens, en respek vir bokkie, want bokkie klim tot heel bo, met grasie.

Maar hierdie klein sterk koppies is so anders, en vreemd en vol verassings en speelplekke, as gevolg van die imperfeksies. Iets het het daar gebeur wat lyk of dit woes gegaan het met die klipformasies, en nou is dit die mooiste ding wat ek nog gesien het. En ek kry my antwoord, want weereens herken ek iets in myself in die vreemde formasies en gate. En ek slaap op my stretcher buite die aand, en ek droom so vivid, en ek voel nederig en sterk op dieselfde tyd. En uit hierdie plek kom ‘n liedjie.